’n Leser uit Jeffreysbaai het vrae oor sy
familietrust.
Hy het dit “op aanbeveling” geskep en hy en sy vrou het
jaarliks die maksimum belastingvrye skenkingsbedrag aan die trust oorgemaak wat
meestal in effektetrusts belê is. Hy is die trustee en sy vrou en kinders die
begunstigdes.
Dis die kern van sy brief.
En dan wil hy weet: Is
die trust deel van sy boedel? Wat is die posisie ten opsigte van belasting op
die trust ná sy afsterwe?
Hierdie is vir my tipiese probleme wat kan
ontstaan as jy jou ore uitleen aan trustsmouse wat net daarop ingestel is om
geld uit jou te maak.
Dié tipe vrae skep op sy beurt by my baie vrae, wat
ek nie aan die leser kon vra nie, want hy gee nie ’n telefoonnommer of e-pos in
sy brief nie.
Ek vra dit hier sodat lesers dit aan hul “raadgewer” kan
vra as hulle met ’n trustvoorstel te doene kry. Waarom, sou my eerste vraag
wees, moet die belegging in die familietrust gedoen word – hoekom nie in jou
en/of jou vrou se eie naam nie?
Dit kon wees om vir
boedelbelastingdoeleindes dié geld uit jou boedel te hou. En dan sou ek wou
weet, wie betaal die inkomstebelasting op die opbrengs op die belegging? Die
trust?
Dan het jy R22 800 per jaar se rentevrystelling gemis. Dit geld
net individue, nie trusts nie. Die trust betaal boonop 40% belasting (op die
rente en huurinkomste in die belegging) teenoor jou eie koers. En
kapitaalwinsbelasting op die verhandeling in aandele Trusts betaal KWB teen 26%
en individue ’n maksimum van net 13,3%.
Ek weet belasting-slimjanne sal
sê die opbrengs word toegeken aan begunstigdes en die individu betaal dus
belasting in sy naam teen die laer koers (die sogenaamde
deurvloeibeginsel).
Dit sou waar kon wees, maar dan is die vraag: Wat is
dan die doel van die trust Sodra geld aan ’n individu toegeken word, verkry hy
’n gevestigde reg daarop. Dit behoort dan nie meer aan die trust
nie.
Prakties is dit terug in die boedel van die begunstigde en vatbaar
vir boedelbelasting, skuldeisers en egskeidingseise.
Net een trustee?
Nog meer, net die familie as trustees Kom ons kyk wat sê die hof. In die saak
Landbank vs. Parker het die hof hom ondubbelsinnig uitgespreek teen trusts wat
deur die familie beheer word, laat staan nog net een trustee.
’n
Onafhanklike trustee is nodig as jy nie jou aan die verkeerde kant van ’n eis,
of van Jan Taks, wil bevind nie.
“Is die trust deel van my boedel?” Nie
noodwendig nie. ’n Trust wat reg opgestel is en reg bestuur word, moet juis
voorkom dat trustbates by jou dood in jou boedel opgeneem word.
My
ervaring is dat die meeste trusts nie korrek opgestel is nie. Die talle onlangse
hofuitsprake tot die verdriet van trustoprigters ondersteun my
siening.
Verder bepaal art. 3(3)(d) van die Boedelbelastingwet (Wet 45
van 1955) dat enige bate waaroor jy kort voor jou dood in staat was om tot jou
eie voordeel oor te beskik, in jou boedel opgeneem kan word.
Dit sal dus
afhang van hoe jy met hierdie belegging te werk gegaan het. Asof dit jou eie
is? Dan is die kans goed dat dit in jou boedel kan
beland.
No comments:
Post a Comment